HOE KYK ONS DAN CHRISTELIK NA MISDAAD?
’n Mens sukkel om woorde te vind om jou afgryse oor die daaglikse en toenemend-bose spiraal van misdaad - en veral geweldsmisdaad - in Suid Afrika te beskryf. Geweld teen vroue en kinders, verkragtings, sinlose plaasmoorde, vandalistiese betogings, bende- en taxigeweld - noem maar op.
Ek probeer moontlike redes daarvoor soek, want armoede en apartheid kan beslis nie as die hoofrede van soveel barbaarsheid en wreedheid beskou word nie. Ek besef dat dit ’n klein minderheid van die bevolking is wat hieraan skuldig is - waarvan ’n aansienlike persentasie (onwettige) immigrante is.
Die boosheid, wreedheid en haat van hierdie koelbloedige moordenaars en misdadigers is ondenkbaar.
Iets wat opvallend is, is hoeveel van hierdie misdade gepleeg word deur mense wat uit is op parool - dikwels na soortgelyke misdade in die verlede - mense wat ’n gewetenlose loopbaan van misdaad maak.
Terwyl daar waarskynlik ’n komplekse kombinasie van faktore is wat tot hierdie bose en geweldadige toedrag van sake aanleiding gee, word ek egter van een saak meer en meer oortuig - misdadigers het die vrees vir die gevolge van hulle misdade verloor.
Hiervoor moet die staat die grootste verantwoordelikheid neem. Paulus sê onomwonde in Rom 13:3 dat dié wat reg doen geen rede het om die swaardmag wat aan die regering gegee is, te vrees nie. Vir die kwaaddoener sê hy egter in vs. 4: “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”
Ons regstelsel en ons strafstelsel faal onskuldige landburgers. Die oormatige klem op die menseregte van misdadigers het die strafbeginsel met ’n “korrektiewe” benadering vervang. Dis ’n benadering wat (in Suid-Afrika) grootliks misluk. Ek wonder watter persentasie misdadigers verlaat ons tronke (korrektiewe sentrums) gekorrigeerd en gerehabiliteerd en hoeveel is net versterk in hulle kwaad.
Die doodstraf is afgeskaf in Suid-Afrika. Ek is egter van mening dat daar toenemend meer misdadigers sonder enige verhoor deur boendoe-howe, konfrontasie met polisie en uit selfverdediging “tereggestel” word omdat misdadigers weens ’n grootliks mislukte strafstelsel nie meer bang is vir die gevolge wanneer hulle die mees gruwelike misdade pleeg nie.
Ek is teen polisie-brutaliteit. Selfs sonder die moontlikheid van die doodstraf, moet misdadigers egter weet dat die gevolge van hulle dade erge straf inhou. Dit moet van so ’n aard wees dat vrees daarvoor hulle in die toekoms van misdaad weerhou.
Ek dink hier onder andere aan dwangarbeid om o.a. ons land se vervalle infrastrukture, riolering en landbougrond, te herstel en te bewerk.
Dit moet nie as die miskenning van menseregte en as wraaksug afgemaak word nie. Dis wel skreiend en liefdeloos om onskuldige mense langer aan sulke bose barbaarsheid bloot te stel.
As dit as “onchristelik” beskou word, wat is die “Christelike” alternatief?
コメント