Beeldartikel - Waarheen dan is integriteit, Suid-Afrika? - 01 Des 2021
Dis vandag presies ’n maand gelede dat ons plaaslike verkiesings plaasgevind het. Die belofte van die regerende party van ’n beter lewe vir almal, dat korrupsie uitgeroei gaan word en dat dienslewering nou reggeruk gaan word, sluk ek maar moeilik aan.
Die afgelope paar jaar het toenemend bewys gelewer dat dit nie net ’n paar indiwidue in die regerende party is wat korrup is nie, maar dat daar op elke vlak van regering sistemiese korrupsie is. Byna daagliks kom daar meer gevalle van korrupsie aan die lig. Die ontkenning van persoonlike verantwoordelikheid, leuens en die misbruik van die regstelsel het enige herstel van vertroue straks onmoontlik gemaak.
Wat hierdie onheilige salf van integriteitloosheid by meer as een politieke party nog dieper in Suid-Afrikaners se wonde vryf, is die wyse waarop indiwidue op verskillende wyses voor en na die plaaslike verkiesings “gekoop” is.
Ek verstaan dat daar onderhandelinge en toegewings in veelparty-koalisies gemaak moet word, maar om darem sekere beïnvloeders met ’n nuwe spogmotor om te koop of dat ’n klein minderheidsparty soos ’n politieke prostituut bereid is om in die bed te klim met die beste bieër - ongeag beginsels en waardes - laat ’n mens stik.
Wat het van integriteit geword? Een van die vele sinonieme van integriteit is immers “onomkoopbaarheid”. Dit beteken jy het nie ’n prys nie - ten spyte van die algemeen aanvaarde gesegde dat elke mens sy prys het. Iemand met ware integriteit en onkreukbare karakter het nié ’n prys nie!
Ek huiwer om te sê dat alle politici maar eintlik dieselfde is en dat politiek, en veral party-politiek “vuil” is. Leuens, bedrog en korrupsie het nie eers onlangs in politiek posgevat nie en dit is ook nie net ‘n Suid-Afrikaanse fenomeen nie. Integriteitloosheid het egter in ons bestel rekord-afmetings bereik.
’n Probleem wat hieruit voortspruit is dat die korrupsie, integriteitloosheid en koopbaarheid van soveel leiersfigure op elke vlak van ons politieke milieu toenemend deurwerk na die res van ons samelewing. In feitlik elke staatsdepartement moet daar geld onder die tafel gegee word om gewone en veronderstelde funksies van die betrokke departement af te handel. Dikwels is dit ’n blote handtekening waarvoor daar maande gewag moet word - of net totdat die persoon wat gehelp moet word ’n sekere bedrag “oorbetaal”.
Daar is vele ontwikkelaars en sakemanne wat inherent eerlik is, maar as’t ware gedwing word om omkoopgeld te betaal net om voort te kan gaan met hulle werk. Dit word as’t ware as die nuwe “normaal” in Suid-Afrika aanvaar.
Spreuke 14:34 sê: “Geregtigheid verhoog ’n nasie, maar sonde is ’n skande vir volke.” Mag die Here help dat waarheid en integriteit in Suid-Afrika weer kop bo water kry!
(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)
Comments