Beeldartikel - Belydenis van geloof in dié woorde bevat - 27 Jan 2021 -
Ek kry vanoggend die whatsapp van haar, die eggenote van ’n egpaar wat ek jare lank al ken, twee toegewyde kinders van die Here: “Pieter is na Jesus toe.” Dis al.
Hulle het altwee Covid 19 onder lede gehad. Hy het in die hospitaal beland. Die afgelope paar dae het ek gereeld deur whatsapp of per telefoon met hulle kontak gehad. Hulle liefde, kommer en omgee vir mekaar was duidelik. Ek het saam met hulle gebid. Gisteraand het hy nog ’n whatsapp vir haar gestuur met die woorde: “Dankie Here vir asem en rustigheid… ek dink ek’s nou okei. Lief jou.”
Net na 03:00 vanoggend het die hospitaal gebel. Hy is dood. Die vyf woorde wat sy vanoggend vir my gestuur het, het egter in my hart kom lê: “Pieter is na Jesus toe.” Ongelowiges en sinici sal dit nie verstaan nie. Hulle mag vra: Hoekom het die Here hom dan nie gesondgemaak, sy lewe gespaar nie?
Baie gelowiges, en ekself, het die afgelope maande met baie soortgelyke vrae te kampe gehad. Daar is sekere geloofsoortuigings en ander lewensrealiteite waaroor ons opnuut moes besin. Feit is dat gelowiges, ongeag hulle toegewydheid, is nie immuun teen die gebrokenheid van hierdie ondermaanse nie.
Net soos wat ongelowiges ook deel in die genade van God - Hy laat immers Sy reën val oor die regverdiges én die onregverdiges (Mt. 5:45) - klop gebrokenheid en smart nie net aan die deure van ongelowiges nie, maar ook aan dié van gelowiges.
Die Covid-pandemie het dit weer baie duidelik kom maak. Covid 19-infeksies en die dood het skielik aan ons familie en vriende se deure ook kom klop. Soos iemand gesê het: Hulle kap al meer aan ons kant van die bos.
Ongeag hóé hierdie die virus tot stand gekom het, en ongeag of mense pro- of anti-inentings is, feit is dat mense word siek en sterf.
Help dit dan enigsins om te bid? Siekte, smart, die dood - en ook hierdie virus met sy knaende mutasies, is omgewe in soveel misterie. So ook die soewereine handelinge van God. Ek glo dat die Here wel baie gelowiges se lewe in antwoord op gebed gespaar het. Daar is egter ook hulle wat nié glo nie, wat ook (sover) skotvry hiervan afgekom het.
Haar woorde vanoggend het - behalwe vir die skok en hartseer - ook van ’n diep vertroosting gespreek: “Hy is by Jesus.” Dis ’n belydenis van geloof, ’n ewige troos en hoop wat die gelowige het.
Ek het gewonder wat die ongelowige, die ateïs, sou sê? “Hy is dood; hy is weg; hy’t ophou bestaan?”
DIe vaste geloof in Christus, dat geen lewe óf dood my van Hom kan skei nie, laat ons toe om te bely: Hy is nie weg nie, hy is tuis - by Hom.
Comentarios