top of page

Godsdiensaktueel - Pandemie laat my besin oor dood en geloof - 14 Jul 2021

Iemand het eenmaal gesê: “As jy jou teologie wil skryf, goeie teologie, moet jy dit skryf in die winters van jou lewe”.

Ek praat aan die begin van die week met ’n kollega wat sy eggenote twee weke gelede weens Covid 19 verloor het. Hyself is besig om te herstel nadat hy die virus-siekte ook in ’n ernstige graad opgedoen het.

Ná 49 jaar van ’n gelukkige getroude lewe, is hy skielik alleen - in hierdie seisoen van die lewe waar jy die kameraderie van jou lewensmaat die nodigste het.

Tydens ons gesprek sê hy vir my “Hierdie krisis, waar die dood rondom jou maai en jyself so siek is, het my opnuut laat besin oor my teologie.”

Dit ís so dat sommiges se interpretasie van die Bybel en beskouing van God soms baie vlak is. Dis mos goedkoop-teologie om vir iemand wat sy geliefde verloor het of ouers wat ’n kindjie aan die dood afgestaan het, te wil troos deur iets te sê soos dat God ‘n blommetjie kom pluk het vir Sy blomtuin of, toemaar, sy is nou ’n engel in die hemel.

Ek moes die afgelope tyd self opnuut besin oor sekere Bybelse begrippe en terme wat ons so dikwels gebruik. Hoeveel mense het die afgelope maande byvoorbeeld aan my gesê (veral t.o.v. van die Covid 19 bedreiging): “Ek gaan nie die inenting neem nie, want ek glo die genade van die Here sal my beskerm; of, ek is “onder die bloed”, of, “ek glo in Psalm 91.”

Dis wonderlik en ek respekteer altyd mense se kinderlike geloof. Ek glo óók aan al daardie waarhede. Wat moet ek egter vir die naasbestaandes van die meer as vyftig van ons kerk se pastore of hulle eggenotes sê wat reeds aan Covid dood is? Was daar nie vir hulle genade nie? Het hulle nie genoeg geglo of gebid nie? Was hulle nie onder die bloed nie?

Ek het begin besef dat ek nuut oor God se genade sal moet dink. Die feit dat ek en ons hele gesin nog nie Covid gekry het nie, is sekerlik genade. Beteken dit egter dat daar vir die groot getal gelowiges wat wel Covid gekry of daaraan gesterf het, nie genade was nie?

Terwyl vriende, familie, kollegas en kennisse links en regs om my sterf of baie siek word, het dit my nuut en dieper oor God se genade laat dink. Genade is veel, veel meer as dat ek gespaar gebly het of selfs genees is van Covid (of enige ander siekte). Genade beteken dat God by my is - ongeag of ek siek is of nie. Dit beteken dat ek Sy liefde en teenwoordigheid ervaar ongeag my fisiese omstandighede.

God se genade en liefde beteken ten diepste dat niks my kan skei van Hom en Sy liefde nie - selfs nie die dood nie!


(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)

Commenti


Onlangse Artikels
Afdelings

ONDERSTEUN MY UITGEWERS:

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA

SOSIALE MEDIA:

© 2015 by Isak Burger. All rights reserved.

bottom of page