top of page

Christene nie vry van rampe

Die laaste tyd was Christene wêreldwyd as lydende party baie in die nuus.

Eerstens was (en is) daar die buitengewoon wreedaardige vervolging van Christene deur ekstremistiese Moslems in veral Irak, maar ook in Sirië, Afganistan, Nigerië, Suid-Soedan en ook sporadies in ander Moslem-beheerde lande.

(Daar was darem die laaste tyd ook gevalle waar gematigde Moslems op verskillende plekke hulle van hierdie wreedaards gedistansieer het.)

Daar is natuurlik ook nog Noord­Korea, waar ’n volslae ateïstiese regeerder en regering vasbeslote is om enige reste van godsdienstigheid in die land uit te wis.

En dan is daar die onlangse tragiese ramp in Lagos, waar ’n hostelgebou op die terrein van past. TB Joshua se kerk ineengestort en ’n groot aantal gelowiges gesterf het – die meeste van hulle Suid-Afrikaners.

Daar is bespiegeling oor sekere sinistere redes wat aanleiding sou gegee het tot die ramp. Die oorsaak is egter waarskynlik ’n ontoereikende struktuur wat die ekstra verdiepings wat aangebou is nie kon dra nie. Die werklike rede sal hopelik binnekort bevestig word om sodoende allerhande bespiegeling uit die weg te ruim.

Feit is dat daar talle vrae gevra word, soos blyk uit vele artikels en briewe die afgelope week in die media.

Waarom gebeur dit met Christene wat met opregte verwagtings daarheen gegaan het, mense wat gehoop en geglo het dat hulle iets besonders deur die bediening van Joshua sal ontvang?

Talle vrae, beskuldigings en beledigings word nou (geregverdig en ongeregverdig) aan Joshua gerig. Soos een van die desperate familielede verlede week op die O.R. Tambo-lughawe gevra het: “Profeet, waar is my kind?”

Erger nog, God sélf is in die spervuur. Kon die Here dit nie verhinder het nie? Dit laat my dink aan die woorde van kritiese omstanders by die graf van Jesus se vriend Lasarus: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?”

Daar is ongelukkig ook diegene wat op die mees onsmaaklike en gevoellose wyse hierdie hartseergebeure gebruik om gelowiges en God sélf met karikatuur­agtige uitlatings te bespot. Sulke briewe en artikels is óók gepubliseer.

Dit is natuurlik mense se reg om nie in God of ’n god te glo nie. Baie van hulle is beskaafde en goed opgevoede mense wat ander wat wel glo, respekteer. Ongelukkig is daar sommige haatgevulde en venynige ateïste wat ’n onverkwiklike byltjie te slyp het met Christene, of eintlik met God.

Mense het eenkeer aan Jesus berig gebring (Luk. 13:1-5) van die slagting van ’n aantal Galileërs deur die wrede goewerneur Pontius Pilatus terwyl hulle besig was om hul offers te bring. Jesus se antwoord aan hulle kan ook verwys na aanbidders in Lagos en ander wat in die einste Nigerië en elders wreed as Christene vermoor word: “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Of daardie 18 op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het – dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?”

Christene, en onskuldiges, is op hierdie ondermaanse nie gevrywaar van rampe, wreedheid en onreg nie; dít sal ons in die hemel beskore wees (Openbaring 21:4). Net soos God se reën op regverdiges en onregverdiges val, tref hartseer en gebrokenheid nie net die lewe en huise van slegte mense nie.

Daarom moet gelowiges en ongelowiges maar stadig en versigtig wees met uitsprake en verklarings.

Ten minste gee die Bybel dié wat in Christus glo ’n ander perspektief op die dood en die lewe daarna.

Onlangse Artikels
Afdelings

ONDERSTEUN MY UITGEWERS:

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA

SOSIALE MEDIA:

© 2015 by Isak Burger. All rights reserved.

bottom of page